Opkomende boere woel oorsee

Tien opkomende boere is vandeesweek in die land terugverwelkom ná ’n besoek aan België en Oostenryk, waartydens hulle ondervinding oor die uitvoermark opgedoen het en aan sakelui bekend gestel is met die oog om marktoegang vir hul produkte te bekom.

Hul besoek is moontlik gemaak deur die SA Agri Academy, wat vooraf aan hulle opleiding verskaf het om uitvoergereed te wees, en die Wes-Kaapse departement van landbou, wat die besoek help fasiliteer en finansier het.
In Desember 2003 het die Wes-Kaapse departement van landbou en die SA Agri Academy ’n ooreenkoms aangegaan om marktoegang vir opkomende boere in die EU te bekom. Hiervoor het verskeie groepe Europa al besoek en agterna suksesvolle uitvoerders van hul produkte geword.

Die SA Agri Academy neem die opkomende boere na Europa en fasiliteer kontak met invoerders, kleinhandelaars en kopers. Terug in Suid-Afrika stel hulle dan sakeplanne in oorleg met SA Agri Academy op om te sien hoe hul planne kan werk en wat hulle kan vermag met die kontakte en kennis wat hulle opgebou het.

Altesame 44 opkomende boere wat Europa al voorheen só besoek het, voer deesdae op ’n gereelde grondslag hul produkte daarheen uit.
Mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou, het by die verwelkoming gesê die Suid-Afrikaanse landbou staan voor twee groot uitdagings.
Eerstens stel die internasionale markte by die dag nuwe eise vir landbou. Suid-Afrika moet mededingend bly, hoewel die speelveld nie gelyk is nie en die meeste lande hul boere subsidieer.
In Suid-Korea word boere tot met 80% gesubsidieer vir hul uitgawes en in Switserland word boere betaal om op hul plase te bly.
Baie lande weet ook hoe waardevol navorsing is, met die klem veral op nismarkte.

Tweedens moet die plaaslike landbou transformasie in die landbou hanteer om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, om te verseker dat grondhervorming ordelik geskied, en toesien dat nuwe toetreders volhoubare boere word wat kan bydra tot groei in dié sektor.

Deur hierdie projek, AgriMatch, probeer die Wes-Kaapse departement van landbou bydra tot die doelwit om handel met 10% tot 15% te verhoog.

Hy het gesê die besoek het lede van die groep in staat gestel om hul kennis uit te brei oor die verskaffings- en handelstrukture in die EU-markte. Dit het hulle ook ’n beter begrip gegee van die logistieke ketting, asook wat om te doen om aan die bemarkingsvereistes te voldoen rakende konvensionele sowel as organies geproduseerde produkte. Ook hoe om hul sakeplanne vir die regte markte vir hul spesifieke produkte ten uitvoer te bring.

Van die opkomende boere wat België en Oostenryk besoek het ingevolge ‘n ooreenkoms tussen die SA Agri Academy en die Wes-Kaapse departement van landbou is (van links) me. Juliette du Preez (opkomende verwerker van voedsel), mnr. Chrisjan Williams (opkomende boer), me. Bongiswa Matoti, Wes-Kaapse direkteur van landbou-ekonomie, me. Lina Keyter, uitvoerende hoof van die SA Agri Academy, en mnr. Jacobus Mietas (opkomende boer).

Resource: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2009/03/13/LB/8/Opkomboere.html

Who Are We

The South African Agri Academy (SAAA) is a non-profit company, (reg. 2001/020837/08), providing training, capacity building... Read More.

Contact Us

  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  +27 (021) 880 1277
  +27 (021) 880 1274
  PO Box 11010, Jamestown, Stellenbosch, 7614, South Africa