Kleinboerprojek kry stukrag

 

Deur JOHAN COETSEE

’n Projek vir kleinboere wat in meentgroepe saamwerk om landbouprodukte doeltreffender en winsgewender te produseer, te verwerk en te bemark, het pas ’n hupstoot gekry. ’n Ooreenkoms om stukrag daaraan te gee, is deur die SA Agri Akademie (SAAA), Standard Bank en die Verenigde Nasies se nywerheidsontwikkelingsorganisasie (Unido) onderteken.

Volhoubare marktoegang was tot dusver moeilik weens die klein volumes wat kleinboere en ontwikkelende landbou-ondernemings produseer. Ander tekortkominge, soos ’n gebrek aan bemarking en markinligting, vererger dit.

Volgens me. Lina Keyter, direkteur van Unido se streekkantoor in Suid-Afrika, het vyf provinsiale groepe verlede jaar ’n koöperasie gestig. In die Oos-Kaap word gefokus op sitrus, in KwaZulu-Natal op groente, mango en sitrus, in Limpopo op groente, sitrus en subtropiese vrugte, in die Noord-Kaap op grondbone en groente en in die Wes-Kaap op groente en ’n jeugprojek. Gauteng en Mpumalanga word binnekort betrek.

Die SAAA is die projekleier, met Standard Bank en Unido as vennote. Die projek sluit aan by die mentorskapplan wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye met grondhervorming beoog.
Vanaf 2006 tot 2008 het talle kleinboere ’n ontwikkelingsprogram van die SAAA bygewoon waarin hulle tegniese vaardighede geleer is met die oog op marktoegang en finansiering. Hulle is ook touwys gemaak met kosteberekenings, bemarking en marknavorsing. Die program word in driejaar-siklusse aangebied.

Dr. Nomsa Masuku, direkteur van maatskaplike belegging by Standard Bank, sê die doel is om mettertyd van sulke kleinskaalboere wat by die staat se program vir die herverdeling van landbougrond baat gevind het, volledige kommersiële boere te maak.

Unido, met sy ervaring van meentgroepe kleinboere in Suid-Amerika, elders in Afrika en in Asië, stel sy ervaring, kundigheid en invloed tot die projek se beskikking.
Lede van die meentgroepe sal later vanjaar in ’n volgende fase met kopers in aanraking gebring word. Kopers maak voorstelle oor kultivars en identifiseer ook die vraag na verwerkte produkte.

Resource: http://152.111.1.45/argief/berigte/landbouweekblad/2011/03/18/LB/89/02.html

 

Who Are We

The South African Agri Academy (SAAA) is a non-profit company, (reg. 2001/020837/08), providing training, capacity building... Read More.

Contact Us

  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  +27 (021) 880 1277
  +27 (021) 880 1274
  PO Box 11010, Jamestown, Stellenbosch, 7614, South Africa